Blogstream   -   Create a Blog!   -   Login Chat   -   Options   -   Clean   -   Flag   -   Family Filter: Off   -   Recent   -   Rndm >>    

Blogstream  >  Anything  >  Blog  >  Post #98954
 
Bobby se Blog


 Medies gesproke: kort verslag/ Politieke meditasie
Back to Full Blog  

Mensag, dinge kan vinnig skeefloop en as dit nie regkom kan hierdie een van my laaste blogs wees. Sedert Maandag 'n week gelede het die kanker in my limfstelsel in my longe begin groei. Ek het al meer kortsasem geraak, en toe pyn in die rug en nek gekry. Het nie krag vir enigiets nie -- dus al die onbeantwoorde foonoproepe en emails.
Van gister is ek in die Bay Hospitaal in Richardsbaai. Ons het gedink dit sal net vir 'n paar toetse wees, maar dit klink of ek langer hier gaan bly. Vandag word opnuut 'n CT skandering van die borskas gemaak, en dan sal Dr. Dudley Kelbe [spesialis arts hier in die hospitaal] kan vasstel wat die skade is. Hy sal dan met my onkoloog konfereer oor die pad verder. Wel, as daar nie iets gedoen kan word wat werk nie, dan kan die einde vir my baie vinnig kom.
Hulle het my gister met 4 soorte pynstillers geslaan, en ek het 'n pynvrye nag gehad -- deurgeslaap tot 04:20. Met die wakkerword het ek weer morfine benodig.

Hier in die hospitaal is 'n paar verpleegsters wat my herken van verlede jaar en kom groet. Die een was in 'n ernstige motorongeluk intussen en die ander se seun het drie maande gelede op 23 selfmoord gepleeg nadat hy op 'n partytjie in Empangeni ge-gangrape is. Blykbaar word soiets nie deur die wet as krimineel beskou nie. Net vroue kan blykbaar gerape word in die oog van die reg. Of dit werklik so is, weet ek nie.

Gelukkig kan ek my laptop aan die Internet hier in die hospitaal [Saal 1 no 4]koppel. Dus het ek heelwat vermaak, met Wimbledon ook nog op die tv. Minnie is alleen in Mtunzini, maar Sanmari en Chris is onder weg -- hulle het 'n bakkie gaan koop in Johannesburg ek kom dan hierheen nadat hulle in die Vrystaat by Oupa en Ouma was.

POLITIEKE MEDITASIE

In hierdie dae dink ek baie aan ons almal se toekoms in SA. Ek sien gevaartekens flits oral waar ek kyk. Daar is 'n swart rassisme aan die oplaai wat in hierdie stadium hoofsaaklik nog van akademiese belang is, maar regtig lelik kan raak.
Alhoewel Pres. Mbeki met sy inhuldigingstoespaak ons almal as Afrikane bestempel het, het wetgewing onder sy bestuur die model van 'n reenboognasie verruil vir n swart nasie. Regstellende aksie op grond van swart rassistiese kriteria oorskrei nou die sanksies van die Grondwet (sien onlangse verslag van Afriforum). Dit kan en sal bitter tragiese gevolge he^ as dit nie vinnig reggestel word nie. [Sien my Political Manifesto in die blogs van 'n paar weke gelede.]
'n Militante, swart rassisme is net wat die onsigbare wit regtervleuel benodig om in die land se kwaaiste terroriste te ontaard, en wat die swart jeug nodig het om al wat witmens is uit die land te wil jaag. [Twee jong swartes het in die Musgrave-sentrum in Durban my aangeraai "om terug te gaan waar ek vandaan kom". Hulle was nie oop vir praat nie en het emosioneel op my begin skree. Dis was op grond van 'n misverstand, wat deels deur my veroorsaak is, maar waarop ons nie hoef in te gaan nie.]

Uitsprake wat deur welsprekende politici van podiums gemaak word, word deur die massas as rede vir swart rassisme gebruik. Daar is talle voorbeelde. As 'n minister se^ dat dit net witmense is wat oor geweld kla en die beswaardes dan maar oorsee moet verhuis, word dit op voetsoolvlak verstaan as 'n ondersteuning en aanmoediging vir plaasmoorde.
Daar was protes oor die uitspraak en die minister het homself herfraseer, maar dit is by verre nie genoeg om die nuwe ideologie hok te slaan nie. Iemand moet die makers van sulke uitsprake verantwoordelk hou vir wat die massas met hulle mooi woorde maak. Dit gaan lankal nie meer om die armes en verdruktes te help nie.

Ek het 'n persoonlike storietjie om hier by te voeg. Toe die NRF by ons unversiteit die Senaat toegespreek het en juigend geleenthede vir swart dosente en studente aangekondig het, het ek opgestaan en beswaar gemaak teen die rassistiese teneur. My swart kollegas het soos een man teen my gedraai en verduidelik dat daar in die verlede teen hulle op grond van velkleur gediskrimineer is, en dat dit nou nie minder as reg is dat velkleur as kriterium geld nie. Hulle is in die meerderheid en ons wittes op die Senaat het geleer dat as hulle so 'n benadering volg, ons maar doodstil moet bly of oor die blomme en bytjies moet praat. Dus, swart rassistiese argumente is al deel van die hegemonie -- dit word as natuurlik en vanselfsprekend aanvaar en die weerspreking daarvan word as perversie gesien.

Volgens alles wat ek oor anti-hegemonie weet, sal argument hulle nie verder oortuig nie. Alleen 'n emosionele, konkrete opposisie kan 'n indruk maak.

AKSIE?
Dit is tyd dat witmense, Afrikaners en die Afrikaanse gemeenskap en alle nie-swartes deeglik hieroor besin. Ek het heelwat idees, maar hier is net vier hoofgedagtes:
1. Nie-swartes moet hulself bewustelik as minderheidsgroepe met minderheidsregte herontdek, definieer en projekteer in die nasionale psige. [Leopold Scholtz het 'n werkstuk hieroor vir die SA Akademie opgestel, wat ek dink puik is.]
2. Die strategie van geweldlose verset moet aan die orde van die dag kom. Ons moet weet watter wapens tot ons beskikking is. Geweld is die absolute verkeerdste ding in ons situasie, en as daar geweld oor hierdie kwessies uitbreek, kan ons maar net sowel na die buiteland verhuis soos die minster mos begeer. [Ons moet ML King en Walter Wink vars bestudeer.]
3. Ons moet vertroue in onsself en ons eie waarde vind en op realisme baseer. Ons nederige bydrae is nodig vir die welsyn van almal. Ons moet ons eie skole, universiteit, kerke en besighede, en selfs stede en dorpe waar ons in die meerderheid is, volgens die besingsels van die Grondwet kan bedryf. Ons moet ruimtes bevolk waar ons ons eie besinning kan doen. Ons kan nie aanmekaar in die voet geskiet word as ons ons eie taal wil praat nie. Maar, en dit moet absoluut duidelik gemaak word, hierdie moet binne 'n algehele nie-rassige en regverdige opset verloop tot heil en welsyn van almal. Dit verg 'n grondige breuk met ons eie rassistiese verlede.
4. Vir my as morele mens en Christen is die beginsels waarop ons nasionale lewe ingerig moet word, eenvoudig. Die algemene beginsel is dat ek my naaste moet liefhe^ soos myself. Nie deur mooipraatjies en die oppomp van groot emosies nie, maar in der daad. Dis in ons almal se belang. Die spesifieke beginsels wat ons vir ons nasionale lewe moet nastreef is tweerlei: a. geregtigheid en b. medelye. Daar is veel oor hierdie twee beginsels te se^, maar my algehele waarneming is dat dit die beginsels is wat ons Grondwet onderskraag. Dus kan Christene baie bly wees vir so 'n Grondwet. En dit beteken dat ons met alle geestelike wapens tot ons beskikking teen die omverwerping van hierdie beginsels moet stry.
Nou het ek genoeg geskryf vir vanoggend. Later meer. My Engelse verpleegsuster met al die baie pille het my pas met 'n glimlag beveel om hier neer te skryf dat sy "furious" is omdat sy nie my blog kan lees nie!
Posted by Bobby Loubser at 12:43 AM - No Comments   Add a Comment  
  Hide Post  
Next Post
 
Comments:

There are no comments.


 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

   
  About Me
Author: Bobby Loubser
From Mtunzini, KZN, ZAF
Age: 59
 
This blog is about...
Hierdie is maar net 'n manier om uiteenlopende dinge te deel wat oor my pad kom sedert my geveg... more
 
My: Profile  Gallery  Interests  Bio  Guestbook  100 Things 
 
Bookmark   History

  Blogstream Sponsors

Find anything & everything at Amazon.com
 
15% OFF all Board Games & Baby Items at
Board Games Plus and Everything Mommy
for Blogstream members. Enter coupon code:
BSTREAM08 at checkout.
 
Send Free
Just Saying Hi
Greeting Cards
at

Greeting Cards.com


Good Morning


  Recent Posts

  Blogs I Like
None added yet.

  Sites I Like

  Archives

4308 Visitors