|
Bobby se Blog
Archive for 200604 ( return to current blog )
Monday April 24, 2006
Hello, almal! Vandag, Maandag 24 April lê ek in die hospitaal vir 2 pinte bloed sodat ek Saterdag fiks kan wees. My Hemoglobien-telling is nou op van 8 na 9.7 na 11. Het gister pap begin raak en het toe na die Vergelegen-Medikliniek gekom. Ronnie Uijs, my plaaslike onkoloog kyk goed na my en Jacques doen sy deel. Vandag is Elsa Koole se verjaardag—sy het dié dag toe sy my Flikkergram met die kankermetastases sien (28 Jan?) summier opgehou rook!
Verder is dit koud in Kleinmond, maar ek vertoef meeste van die tyd voor ‘n lieflike kaggel met bloekomstompe. Wens julle kon hier wees. Artyom kruip-sleep lang ente en eet uit bekertjies. Yulia berei Russiese groente-bredies wat vir niks skrik nie.
Ons hoop vir blakende mooiweer in die Sederberge. Die wonderagtige Paasnaweke wat ons gesin saam met ons familievriende, die Perolds en Murrays, by die Wolfbergskeure gaan kamp het, bly my by. Die lig was intens en die lug kristalhelder. Saans was daar ‘n onbeskryflike varsheid oor die Sederberge.
My afgelope nagte was woes ná my chemo laas Dinsdag. Die kortisone hou ‘n mens wakker. Wat dink ’n mens oor 8 ure se slaaplose gemymer? Wel, ek het ‘n simfonie van gesigte opgetower van almal wat deur die jare saam met my die skoolbanke blink gesit het. Die vriende, die boelies en die sweethearts! Neem nou maar Sub. A. Waar hulle is, weet ek nie, maar iewers in my binneste is daar ‘n klank- en kleurebeeld van hulle: Altus Ruppersberg, Marie Visagie (?), Marcele (Burgers), Blanche de Waal (Koffie se dogter), Braam van Velden, Johann Rupert, Johan Albertyn, Louis Theron (Elsenburg), Hoffie en Willem Conradie, Theo Badenhorst. Klasjuffrou: Lizel de Kock (waar in die wêreld is sy nou?). Skoolhoof: Ant’ Charlie Daneel (sy het vir almal roomys uitgedeel met haar aftrede in my Sub. A-jaar, 1956, maar toe tot ons blydskap aangebly vir nog ’n jaar). Dit was ook die jaar waarin ek my voortand uitgehardloop het teen MacKenzie Johnson se yslike voorkop en met goue tand moes regkom. Die klas het gesingspot: “Al dra ’n aap ’n goue tand, hy bly maar ’n ou kalant.”
Hoe hiperaktief en stout was ons nie! Ons het die heeltyd muf geruik. Party moes in “die hoekie” gaan boete doen.
Ou Bloemhof Laer op Stellenbosch se skoolgronde was nog woes en vol moerbybome, waarin ons vliegtuig-vliegtuig gespeel het. Ek was vlugkaptein en het die ongehoorsames geniepsig op hulle plekke gesit. Lona de Villiers was een van die meisies in Std. 1 wat ons geterroriseer het. Tot my skok lees ek in die “Oud-Bloemhoffer” dat sy oorlede is. Het haar sus Fran goed geken voor sy aan borskanker dood is toe sy nog met haar M.A. in Latyn besig was. In dieselfde uitgawe is daar ’n berig uit die 1931 uitgawe met my ouma, J. K. Neethling (Loubser) se naam in as een van die drie stigterslede van die Bloemhof Oudskolierebond.
| | | |
|
|
Monday April 17, 2006
Paasmaandag
Ek wens julle kan vanoggend die tierende branders sien waar hulle uit die grou mis
soos spokerige olietenkers opdoem en op Spykerklip hier by Kleinmond afstorm.
Ons het Saterdagaand laat hier aangekom en sit nog die meeste van die tyd
rondom ‘n knus kaggelvuur. Hier versamel selde minder as tien siele op ‘n slag –
as die een groepie gaan, kom die ander. Niggie Maria en Jaco het in die
agterplaas kom kamp, want al die kampterreine was vol. Toe hulle gaan, kom Sanmari
en Chris. Chris se geselskap het eergister 88 krewe op die Weskus uitgehaal vir
die troue – alles wettig hoor. Daar gaan glo ’n magtige kreef-voorgereg wees.
Gisternag om
eenuur ruk ek helder wakker en ek “ontvang” Sanmari se troupreek, klokhelder en
logies. Om sesuur word ek weer wakker en besef die “zir” in die preek kort nog.
Ek vind dit en voeg dit in en raak sommer deur my slaapnewels bewoë. Eva, alias
Sanmari is aangetrek soos die hemelse bruid en stap af op Adam, alias Chris, wat
soos die hemelse bruidegom homself kruisig om haar geluk te verseker. Dis die
toekoms van die wêreld wat hier in die kleine afspeel. Yes!, eindig ek die
preek met ’n vuishou in die lug. Of ek dit werklik só sal doen, is ’n ander
saak.
Ons eet
voortreflik. Gisteraand het Yulia geluptsiye
[= Griekse dolmades = geurige frikkadelle toegevou in koolblare] gemaak. My vaal
lensiesop het ook aftrek gekry.
Gisteraand
probeer ons toe kerk hou om iets van die Pase op te vang. Ek wens julle kon die
Loubser sien optree soos ’n troep Adoonse uit ’n T O Honiball-skets. Die een
sit met haar rug na die geselskap en vind die vlammetjies van die vuur skielik
onweerstaanbaar. ’n Ander val summier aan die slaap. Nog ander gebruik die
geringste geleentheid om op te spring en een of ander keesagtige aksie uit te
voer om Artyom te vermaak. Sanmari lees Matteus 28 in Engels voor en moet
kort-kort onderbreek. Haar uitspraak word verbeter. Dan word dit in Russies
vertaal, waarop ’n kort dialogie volg. Die twee gebede krimp tot een. Die sang laat
ons liewer heeltemal na. Die duiwel met al sy bataljonne is daarop uit om
hierdie oomblik van innigheid so vlak as moontlik te maak. Pas wanneer ek moed
verloor en wil vra, Kan julle nie tien
minute saam met my waak nie?, doen Johannes ’n baie mooi gebed wat alles
saamvat. Diep in hul harte is daar tog iets wat hierdie adoonse raak en ek is
seker dit sal eendag na vore kom. Dis net dat hulle nog nie die oomblikke van
saamwees in die gees leer waardeer het nie. Hulle is bekeer, maar kort nog ’n
bekering tot die ware kerk. Wel, alles is moontlik. Christus het opgestaan. Christus het waarlik opgestaan.... Vir my hou dit besondere betekenis. Miskien
kan ons mekaar volgende jaar weer so groet op Paassondag.
Hieroor wil ek
nog my boek (titel: Die wese van die Christendom) skryf. Ek raak benoud aan die
gedagte dat daar dalk te min tyd vir my oor is. Bruno Forte se boek was die
laaste in ’n tradisie van 159 jaar waarin daar telkens boeke met dieselfde tema
die lig gesien het. Tog is ek seker ek het ’n bydrae te maak. Johannes, Jacques
en Chris beloof my ’n uur van hulle tyd sodat ek die boek se konsep aan hulle
kan verduidelik.
Vandag is Yulia
s’n. Dit is haar eerste verjaardag in SA en ons maak dit vir haar spesiaal. Sy
word begroet met ’n koek, koffie en sjampanje en ’n armvol presente, waaronder egte
pêrels en skaapvelpantoffels. Dan skype sy huistoe om deur almal gelukgewens te
word.
Môre, die 18e, ontvang
ek weer chemoterapie, dan is dit weer 12 dae van noustrop trek en 9 dae van
beter voel tot die volgende. Tot dan, hoor julle dalk nie veel van my nie. Ciao
vir eers.
| | | |
|
|
Thursday April 13, 2006
Geleidelik begin die gewig van Pase op my inwerk. Vandag is Judas se dag. Om hom en sy verraad te wil rehabiliteer en hom in 'n held te verander, is sekerlik 'n groter vorm van laster as om spotprentjies van die Profeet te maak. Die kamstige "evangelie" van Judas wat op 6 April na 30 jaar uiteindelik uit Kopties vertaal is, is niks anders as 'n ydele fantasie nie. En of Judas werklik as held uitgebeeld word, is ook onduidelik. Lees dit maar self en besluit self. Ek kon nie help om 'n artikel op die Wikpedia te pos nie. Al die inligting is daar. Kyk by: Die Evangelie van Judas - WikipediaMore-aand 19:30 vertrek ons Kaaptoe. Vandag is dit volmaan.
13 April. Dis vandag die verjaardag van my ou skool-liefde, Marié, oorlede in 1970 op ouderdom 18, in 'n motorongeluk by 'n Motor-Rally van Eendragkoshuis, net buite Stellenbosch. Dit was die oorsaak van 'n lang trauma vir almal wat betrokke was.
| | | |
|
|
Wednesday April 12, 2006
Vandag deel ek sommer links en regs advies uit. Vir die presidentjie van Iran, Ahminadejad, wil ek iets vertel wat hy nog nie gesnap het nie. Dit is dat 'n mens nie kerntegnologie in die geheim ontwikkel nie. Hy verwag mos dat almal hom op sy woord moet neem as hy verklaar dis vir vreedsame doeleiendes. Kerntegnologie is die een ding waaroor jy nie kat-en-muis kan speel met die internasionale gemeenskap nie. Hier kom nog 'n groot botsing! Hou maar die goud en olie-pryse dop. Gister het olie vir die eerste keer $70 per vat gehaal. Vir Silvio Berlusconi het ek ook 'n boodskap: As jy enige karakter oor het, vat jou pak soos 'n man. (Die dag in April 1996 toe ek op besoek in Udine aangekom het, is ons reguit na 'n toespraak van Romano Prodi op die kampus en het in die voorste ry, so 5 meter van hom gesit. Hy het soos 'n professor in ekonomie gepraat, wat hy ook is. Hy was entoesiasties, maar beskeie en het die indruk van 'n oop en ruimgeestige mens gegee. 'n Mens het gevoel jy vertrou hom en gun hom 'n kans om dinge te probeer regkry.) Gister is ek verras deur die besoek van Evelyn Creswell. Sy en haar man, 'n vorige rektor van die Univ. van Natal, het skaars hul aftreehuis hier op ons dorpie klaar gebou, toe sterf hy. Sy is baie aktief hier onder die kreatiewe geeste, en het twee digbundels gepubliseer. Gister kom skenk sy eksemplare van beide boeke en lees my 'n paar gedigte voor. Soos alle goeie digters skryf sy al jare gedigte, maar was te skugter en kwesbaar om hulle te publiseer. Een mooi gedig gebruik die metafoor van 'n papier-hologram, van die soort wat uit boeke pop as jy die boek oopmaak. Dit herinner haar aan die verborge dimensies wat ons dikwels nie sien voordat ons waag nie. Baudouin, Anne, Alexandre en Frans (Anne se vader) van Genappe (naby Brussels) het vanoggend vertrek nadat hulle sedert Sondag oorgeslaap het. Minnie en ek het hulle maar kort tye gesien, maar watter lustige geselskap! Hulle het 'n groep van 13 Belge op 'n safari gebring. Om te sien hoe hulle ons strand, gholfbaan en plantegroei absorbeer, laat 'n mens sommer met nuwe oog daarna kyk. Baudouin stel voor dat ons na hulle toe vlieg in Julie en dan ry hy ons sommer met die motor oor na Skotland vir die SNTS se kongres (waarvan ek helaas moes ontrrek). Sy universiteit, die Universite Libre de Bruxelles, het die beste kanker-instituut in die hele Europa. Idille. So met die besoeke, gaan my gedagtes terug na 'n idilliese ervaring, 'n amper bo-aardse spekter van sereniteit. Eendag loop ek my vas in 'n kunswerk wat my onmiddellik aan daardie ervaring herinner. Die ervaring word uitgebeeld deur 'n fynbesnede, liggroen, Chinese jaspis-beeld wat baie oud is, so groot soos 'n skoothondjie. Dit gaan terug op 'n gedig oor 'n aangename dag wat digters in ou China deurgebring het. Hulle het piekniek gehou by 'n waterval te midde van lowerige plantegroei. Op 'n stadium, dink ek, het hulle die teekoppies te water gelaat en groot pret daarmee gehad. Na die dag, het hulle almal gedigte daaroor geskryf. Ook die keiser, wat hierdie beeld laat maak het. Die gedig op die beeld kan ek nie lees nie, maar in die Minneapolis Institute of Art, het ek daardie beeld gesien waarvan ek nie gou kon wegkom nie. (Kyk daarna deur hier te kliek!)Ek kon weer alles ervaar van daardie een wonderlike Kersfeesaand in Boston. Dit het so gekom. In die Carriage House op Mass. Avenue, waar ek 'n paar maande gebly het, was daar 'n paar Chinese studente met wie ek baie gou goed bevriend gerakk het. Dit was maar selde dat ek iewers heen in die stad gegaan het, dat daar nie een of meer van hulle saamgegaan het nie. Hulle (Jenny Jian, Jon en Echo) nooi my toe saam na die funksie op die aand van Kersfees (1996). Dadelik toe ons in die woonstel aankom, besef ek hier is iets anders. Almal is Chinees, egte Chinese nie half-amerikaans nie, en almal is stemmig geklee. Almal praat entoesiaties, maar besadig. En, wat my verwonder: elkeen wat opdaag, het 'n stapel boeke of tydskrifte onder die arm! Wat hulle aan almal uitdeel as geskenke. Toe besef ek, ek bevind my in die middelpunt van die mees kreatiewe mense wat jy jou kan voorstel. Daar is min aande wat so vinning verbygegaan het. Hier was mense gretig om vir my al die los punte van my gewonder oor China saam te vat. Die meeste was in Amerika vir politieke asiel. Andersdenkendes wat hul gereed maak om eendag terug te gaan na 'n demokratiese China. Baie kere daarna het hulle my genooi om die keurigste
Chinese kos (o.a. dim-sun) te gaan smul in plekke waar mense met ronde o ë selde kom!
Hoe sê 'n mens dankie vir die vriendskap en opheldering, vir die sereniteit van intellektuele verkwikking wat ek toe en nou ervaar het?
| | | |
|
|
Monday April 10, 2006
Palmsondag
2006-04-09
Wat vloei
deur ’n mens se gees op hierdie dag? Dis vlak voor 9 vm en binnekort sal ons
kerk begin. Eenmaal in Tamboerskloof het ek die kinders met palmtakke ’n
opvoerinkie laat hou. Dit begin met die Hosannas van die skare wat Jesus
begroet en eindig waar die blare van die takke gestroop word en die oorblywende
stingels in gésels verander, waarmee hulle vir Jesus slaan en skree, Kruisig
hom! Vandag kan ek nie kerktoe gaan nie. Dalk kan ek op Goeie Vrydag.
Ek lê in ’n warm
bad en dommel terwyl die radio speel. Soos wat die badwater my moeë lyf laat ligter
voel, so lig RSG se “Alle volke loof die Here” my gees. Daar is simfoniese
koraalmusiek uit Engeland, en ek seën die Engelse vir die erfenis wat hulle aan
die wêreld gegee het (.. o Lord we pray to thee, for those in peril on the sea). Dan is daar op Deutsche Welle-tv ’n program oor jong
pfarrers in die Evangeliese Kerk; ek maak ’n doop en ’n begrafnis mee, en ’n konfirmasie. Dis ’n bloedlose teologie wat daar geld, geheel sonder gevoel vir die numineuse, ek wil amper sê, dis godloos ook. Dit laat my siel grade
sink en ek wonder wat my besiel het om in Duitsland teologie te gaan soek? Kan
’n mens daarmee hemel toe gaan? As ek later oorskakel na RAI Uno na die
Palmsondag-liturgie op die St. Pietersplein in Rome, lig my siel ’n vlak hoër,
al sit Ratzinger daar in pouslike gewaad. Dis orals net skarlaken en goud, en natuurlik
ook palmtakke. Die mense het, ten spyte daarvan dat dit vandag die groot
stemdag in Italië is, opgedaag en sit tot waar die Vatikaangeboue wat soos
arms die plein omhels, ophou. Eers word die lydensverhaal van Markus gesing,
woord vir woord. Klokhelder en meesleurend. ’n Mens kan elke woord volg. Dan
die pous se preek. Wel, dit roer my dieper as diep. Jesus se kruis, sê hy, is die oorwinning van die liefde oor die dood.
Jesus beteken vandag drie dinge: 1. Hy is ’n arme wat deur armes vir armes hoop
en hulp bring, só is hy ’n model vir ons. 2. Hy bring vrede, wat deur
vergifnis en versoening tot stand kom. 3. Hy bring universalisme wat die
vervulling van God se belofte aan Abraham is, universalisme wat alle volke
omhels en insluit.
As ek pous was,
sou ek nie ’n beter boodskap kon lewer nie. Maar hieraan het ek nie gedink nie.
Dis die waarheid van die boodskap wat my ontroer het. Later roer nogiets my: Op
TV5, die Franse stasie, rol ’n film oor ’n drama wat deur die Univ. van Rwanda
opgevoer word. Dit is ’n terapeutiese opvoering wat oorlewendes van die
volksmoord moet help. Op ’n stadium is die verhoog besaai met “lyke”. Die
kamera swaai na die gehoor. Toe tref die werklikheid my. Die uiterste
verskrikking spoel oor mense se gesigte. Anders as die spel op die verhoog, is hul
emosies werklik. Die wit van hul oë wys. Vroue huil onbedaarlik. Dis rou,
onverwerkte trauma wat hier opduik. Wie kan die absolute terreur verstaan
waaraan die oorlewendes en die vermoordes onderworpe was? Dit was ver-skrik-lik!!!! Dit was “han”, die
onverwoordbare smart.
Intussen surf ek nog
die web vir oornagplek vir Johannes en gesin te Beaufort-Wes. Hulle is met my Laguna
onderweg Kaaptoe. Ons volg laat Vrydagaand en sal d.v. om 21:30 daar land.
Minnie maak woes alles gereed vir Baudouin en Anne Decharneux se aankoms
vanmiddag. Hulle slaap oor vir die volgende 4 nagte terwyl die ander lede van
hul toergroep in gastehuise tuisgaan. Hulle almal is gholfspelers. Ek sien
daarna uit om darem ook met hulle te kuier. Verlede jaar was hulle gaaf vir my
toe ek by hulle in Genappe (naby Brussels) oorgebly het. Ons is, so te sê,
familie. So hobbel die lewe voort.
| | | |
|
| Pages: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15
| |
4572 Visitors
|